Ek het nie nodig om kerk toe te gaan nie (1)

Baie mense dink dat ‘n Christen ‘n keuse het of hy wil kerk toe gaan of nie. Is dit regtig so?

Ja, die kerk is nie ‘n gebou nie, maar ‘n gemeenskap van gelowiges. En jy kan derhalwe argumenteer dat ons nie kerk toe gaan nie aangesien ons die kerk is. Maak nie saak hoe tegnies ons die aspek argumenteer nie, dit is ‘n feit dat daar 77 miljoen Amerikaners is wat nooit enige kerkdienste bywoon nie, behalwe troues en begrafnisse. Volgens die ‘Barna Research Group’ woon amper die helfte van Amerikaners (43%) wat hulleself Christene noem, nie gereeld enige kerkdienste by nie. Ek is persoonlik van mening dat die realiteit veel erger as hierdie skokkende syfers is.

Daar is toenemend ‘n neiging onder sogenaamde Christene om nie aktief betrokke te wees in ‘n plaaslike gemeente nie. Daar is baie redes en verskonings vir hierdie tendens. Die meeste van hierdie redes is eerder op die kerk, as op die individu gerig. Ek is seker dat as jy een van die is wat nie gereeld kerk bywoon nie, jy baie vingers het wat na die kerk, sy lede en die kerkleiers wys. Die waarheid is egter dat dit nie die liggaam is nie, maar die geestelike verval van die individu wat by verre een van die belangrikste redes is hoekom mense nie meer kerk bywoon nie.

Maar wat van die argument dat ‘n mens nie nodig het om kerk by te woon ten einde ‘n Christen te wees nie? Dit is gedeeltelik waar dat dit nie ‘n voorvereiste vir jou redding is om lid van ‘n plaaslike gemeente te wees nie. En ek stem saam dat daar baie kerkbanke is wat gevul word deur mense wat nie waarlik wedergebore Christene is nie. Maar indien jy ‘n wedergebore Christen is, het jy nie ‘n keuse of jy deel van ‘n plaaslike gemeente gaan wees aldan nie. En moenie vir my sê dat daar nie Skrif is wat dit bevestig nie. Daar is.

Verder, om deel van die ‘Universele Kerk’ te wees, kerkdienste op die internet of TV te volg, ‘n ontbyt met ‘n geloofsvriend te deel of om so af en toe kerkdienste by te woon, kwalifiseer nie vir die definisie van ‘deel wees van ‘n plaaslike gemeente’ nie. Om ‘n lidmaat van die plaaslike gemeente te wees, beteken dat jy aktief in elkeen van die samekomste van die gemeente en hulle aktiwiteite betrokke is, dat jy hulle met jou gebede en finansiële vermoëns ondersteun en ook jou deel bring in ‘n bediening of ‘n diens binne die gemeente. As jy net een van die vier weeklikse byeenkomste van die gemeente bywoon, kan jy daarop aanspraak maak dat jy wel kerk toe gaan, maar verseker nie dat jy deel van die plaaslike gemeente is nie.

In Handelinge 2:47 lees ons: “En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.” Let op dat daar spesifiek gemeld word dat hierdie mense deel van die gemeente geword het. Dit sê nie dat hulle gered is nie, maar wel dat die feit dat hulle gered is, daarin geopenbaar is dat hulle deel van die gemeente geword het. Dit staan bo alle twyfel dat enige persoon in Jerusalem, wat daarop aanspraak gemaak het dat hy ‘n Christen is maar nie deel van die gemeente was nie, deur die kerk van die dag verloën sou word. Indien jy gered is, is jy by die gemeente gevoeg. Dit is hoe dit toe was en dit is ook hoe dit veronderstel is om vandag te wees. So eenvoudig.

Om onder sensuur geplaas te word of uit die kerk geban te word, is die strengste vorm van dissipline wat deur die kerk uit geoefen kan word en die pynlikste en vernederendste straf wat iemand opgelê kan word. Tog is daar miljoene Christene wat hulleself vrywilliglik van die kerk afsny. Daar moet sekerlik iets verkeerd wees met ‘n persoon wat homself vrywilliglik aan die afskuwelikste van strawwe onderwerp. Ja, ek weet dat hulle dink dat hulle die kerk onder sensuur geplaas het, maar dit is doodeenvoudig net nie waar nie. Jy kan ‘n been afsit, maar ‘n liggaam kan nie afgesit word nie.

As Christen is jy so gemaak dat jy binne ‘n liggaam moet funksioneer. Net soos geen deel van die menslike liggaam enige reg tot ‘n selfstandige bestaan buite die liggaam het nie, net so kan ons nie effektief funksioneer en ons roeping ten volle buite die liggaam uitleef nie. Kan jy jouself indink dat iemand sy arm afsny en dit bokant sy kaggel opstel sodat dit vir mense kan waai as hulle in die vertrek is? Ek oordryf nie, die Christen wat dink dat hy buite die liggaam kan funksioneer is net so daardie arm bokant die kaggel – hy dink dat hy iets doen, maar sy dade is niks meer as die senutrekkings van ‘n afgesnyde ledemaat nie.

Dit is slegs binne die liggaam wat elke lidmaat sy volle potensiaal kan bereik. My duime is baie belangrik vir my en ek het hulle nodig om ‘n magdom take te verrig, maar my duime is nutteloos sonder my ander vingers. Probeer om iets net met jou duim op te tel of vas te hou. Duime is net nuttig wanneer ons hulle saam met die ander vingers aan ons hande gebruik. Jy mag dalk in staat wees om ‘n paar dinge vir die Here te doen as jy op jou eie werk, maar jy sal nooit jou volle potensiaal bereik tensy jy leer om saam met ander te werk nie.

Vergeet selfs van jou volle potensiaal, jy sal nie eers in staat wees om lank buite die liggaam van Christus te oorleef nie. ‘n Menslike ledemaat wat afgesny is, kan slegs vir enkele ure weg van die liggaam “leef”.  Op dieselfde manier sal gelowiges ook net vir ‘n ruk weg van die gemeenskap van die gelowiges kan oorleef. Sonder die vloei van lewe deur die liggaam van Christus sal hulle ook uiteindelik sterf. Voordat jy reageer deur te antwoord dat ons aan Christus verbind is en dat ons die lewe van Hom kry, laat my toe om die volgende vraag te vra: As die Here dit so beskik het dat gelowiges hulle lewe en voedsel deur die liggaam van Christus moet kry, wat maak jou dan so spesiaal dat die Almagtige jou moet uitsonder? As jy Sy voorsiening deur die kerk verwerp, is daar geen manier wat Hy spesiaal net vir jou voorsiening sal maak nie. Hy het Israel gevoed deur aan hulle manna te voorsien. As jy nie die manna wil eet omdat jy nie daarvan hou nie, kan jy maar doodgaan van die honger, Hy gaan nie vir jou biefstuk en skyfies by jou deur aflewer nie.

Die Here het dit in Sy ewige wysheid so bepaal dat die meeste van die individu se behoeftes bevrediging vind deur die lewe van die plaaslike gemeente. Die kerk kan nooit Sy plek in ons lewens inneem nie en ons moet ook nie ‘n verhouding met die kerk hê en nie met Hom nie. Iemand wat getroud is, is met die hele persoon getroud en nie net met die kop nie. Jy kan nie met jou geliefde se kop rondloop en beweer dat jy ‘n verhouding met hom of haar het nie. Tog is daar baie Christene wat ‘n verhouding met die Hoof van die liggaam wil hê, terwyl hulle die res van die liggaam verwerp. Dit is tog belaglik!

Ek weet dat daar baie lesers is wat sal aanvoer dat ek nie baie teks verwysings gegee het nie. Daar is ‘n hele hoofstuk wat met die onderwerp handel: 1 Korintiërs 12. Lees dit en onthou dat die hoofstuk met die plaaslike gemeente handel en nie met ‘n denominasie of die “Universele Kerk” nie. Gelowiges behoort aan, en funksioneer en lewe binne die konteks van die plaaslike gemeente.

Wil jy die ewigheid in die hemel deurbring? Miskien het jy vergeet dat daardie ewigheid in die teenwoordigheid van ander Christene gaan wees – dieselfde Christene met wie jy nie jou tyd hier op aarde wou deel nie.